Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 21:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die Here het Sara besoek soos Hy beloof het; en die Here het aan Sara gedoen soos Hy gespreek het:

2. Sara het bevrug geword en vir Abraham in sy ouderdom ’n seun gebaar op die bepaalde tyd wat God genoem het.

3. En Abraham het sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het, Isak genoem.

4. En Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel het.

5. En Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom gebore is.

6. En Sara het gesê: ’n Gelag het God my berei: elkeen wat dit hoor, sal oor my lag.

7. Verder sê sy: Wie kon ooit aan Abraham voorspel het: Sara soog kinders? Want ek het ’n seun gebaar in sy ouderdom.

8. En die kind het opgegroei en is gespeen. En Abraham het ’n groot maaltyd berei op die dag toe Isak gespeen is.

9. Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot;

10. en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie.

11. En die woord was baie verkeerd in die oë van Abraham vanweë sy seun.

12. Maar God het aan Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou ’n nageslag genoem word.

13. Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot ’n nasie maak, omdat hy jou kind is.

14. Toe is Abraham die môre vroeg op, en hy het brood en ’n sak met water geneem en dit aan Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind, en haar weggestuur. Sy het toe weggegaan en rondgedwaal in die woestyn van Berséba.

15. En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse neergewerp

Lees volledige hoofstuk Génesis 21