Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 19:8-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek dié na julle uitbring, en doen met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak ingekom.

9. Toe antwoord hulle: Gee pad daar! En hulle sê: Hierdie een het gekom om hier as vreemdeling te vertoef en wil tog gedurig die baas speel. Nou sal ons jou meer kwaad doen as aan hulle. En hulle het sterk op die man, op Lot, aangedring en nader gekom om die deur oop te breek.

10. Maar die manne het hulle hand uitgesteek en Lot by hulle in die huis gebring en die deur toegesluit.

11. Toe slaan hulle die manne wat by die ingang van die huis was, klein en groot, met blindheid, sodat hulle tevergeefs na die ingang gesoek het.

12. Daarop sê die manne vir Lot: Wie het jy hier nog? ’n Skoonseun en jou seuns en jou dogters en almal wat jy het in die stad — bring hulle uit die plek uit;

13. want ons gaan hierdie plek verwoes, omdat die geroep oor hulle groot is voor die aangesig van die Here, en die Here het ons gestuur om dit te verwoes.

14. Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat met sy dogters sou trou, en sê: Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die Here gaan die stad verwoes. Maar hy was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer.

15. En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie.

16. Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die Here hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad.

17. En toe hulle hulle na buite uitgelei het, sê Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie!

Lees volledige hoofstuk Génesis 19