Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 19:12-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Daarop sê die manne vir Lot: Wie het jy hier nog? ’n Skoonseun en jou seuns en jou dogters en almal wat jy het in die stad — bring hulle uit die plek uit;

13. want ons gaan hierdie plek verwoes, omdat die geroep oor hulle groot is voor die aangesig van die Here, en die Here het ons gestuur om dit te verwoes.

14. Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat met sy dogters sou trou, en sê: Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die Here gaan die stad verwoes. Maar hy was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer.

15. En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie.

16. Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die Here hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad.

17. En toe hulle hulle na buite uitgelei het, sê Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie!

18. Daarop antwoord Lot hulle: Ag nee, my Here!

19. Kyk tog, u kneg het genade in u oë gevind, en U het u guns groot gemaak wat U aan my bewys het deur my in die lewe te behou. Maar ek is nie in staat om na die gebergte te vlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterwe nie.

20. Kyk tog, hierdie stad is naby om daarheen te vlug, en dit is klein. Laat my tog daarheen vlug — is dit nie klein nie? — dat ek kan lewe!

21. En Hy sê vir hom: Kyk, Ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan, sodat Ek die stad waarvan jy gespreek het, nie sal omkeer nie.

22. Vlug gou daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie. Daarom noem hulle die stad Soar.

23. Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom.

Lees volledige hoofstuk Génesis 19