Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 8:1-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het die Here met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die Here: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.

2. En as jy weier om hulle te laat trek, kyk, dan sal Ek jou hele grondgebied met paddas teister,

3. sodat die Nyl van paddas sal wemel. En hulle sal opklim en in jou huis kom en in jou slaapkamer en op jou bed; ook in die huis van jou dienaars en onder jou volk, en in jou bakoonde en in jou bakskottels.

4. En die paddas sal teen jou en teen jou volk en teen al jou dienaars opspring.

5. Verder het die Here met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou hand uit met jou staf oor die strome en oor die kanale en oor die waterkuile, en laat die paddas opkom oor Egipteland.

6. En Aäron het sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek, en daar het paddas opgekom en Egipteland oordek.

7. Maar die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste en paddas laat opkom oor Egipteland.

8. Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en gesê: Bid tot die Here, dat Hy die paddas van my en van my volk wegneem. Dan sal ek die volk laat trek, dat hulle aan die Here kan offer.

9. Maar Moses sê aan Farao: Aan u die eer bo my! Teen watter tyd moet ek vir u en u dienaars en vir u volk bid, dat die paddas van u en uit u huise uitgeroei word om net in die Nyl oor te bly?

10. En hy antwoord: Teen môre. Toe sê hy: Dit sal wees volgens u woord, dat u kan weet dat daar niemand is soos die Here onse God nie.

11. En die paddas sal u en u huise en u dienaars en u volk verlaat. Net in die Nyl sal hulle oorbly.

12. Toe het Moses en Aäron van Farao af weggegaan; en Moses het tot die Here geroep vanweë die paddas wat Hy oor Farao beskik het.

13. En die Here het gedoen volgens die woord van Moses: die paddas het weggesterwe uit die huise, van die plase af en uit die veld.

14. En hulle het dit by hope bymekaargemaak, en die land het gestink.

15. En toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle nie geluister nie, soos die Here gespreek het.

16. VERDER het die Here met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde, en dit sal muskiete word in die hele Egipteland.

Lees volledige hoofstuk Exodus 8