Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 6:6-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Tattenai, goewerneur wes van die Eufraat, Setar-Bosenai met hulle partygenote, die Afarsegaïete wes van die Eufraat — julle moet daar nou ver van af bly.

7. Laat die werk aan daardie Godshuis toe; die goewerneur van die Jode en die oudstes van die Jode mag daardie huis van God op sy plek bou.

8. En deur my word bevel gegee hoe julle met hierdie oudstes van die Jode moet handel om daardie huis van God te bou, naamlik: Uit die inkomste van die koning, uit die belasting van die westelike gebied van die Eufraat moet die onkoste aan daardie manne sorgvuldig vergoed word sonder vertraging.

9. En wat nodig is, jong bulle sowel as ramme en lammers vir brandoffers aan die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie moet aan hulle volgens opgawe van die priesters in Jerusalem sonder versuim dag vir dag gelewer word,

10. dat hulle welgevallige offers kan bring aan die God van die hemel en kan bid vir die lewe van die koning en van sy seuns.

11. En deur my word bevel gegee dat van elkeen wat hierdie bevel oortree, ’n balk uit sy huis geruk sal word, en dat hy daaraan opgehang en vasgeslaan sal word, en van sy huis hieroor ’n puinhoop gemaak sal word.

12. En mag God wat sy Naam daar laat woon het, elke koning en volk neerwerp wat sy hand uitsteek om dit te oortree, om naamlik hierdie Godshuis in Jerusalem te verwoes. Ek, Daríus, gee bevel; sorgvuldig moet dit uitgevoer word.

13. Toe het Tattenai, die goewerneur wes van die Eufraat, Setar-Bosenai en hulle partygenote sorgvuldig net so gehandel soos koning Daríus laat weet het.

14. En die oudstes van die Jode het gebou en goed gevorder deur die profetiese werksaamheid van die profeet Haggai en Sagaría, die seun van Iddo; en hulle het gebou en voltooi op bevel van die God van Israel en op bevel van Kores en Daríus en Artasásta, koning van Persië.

15. En hierdie huis was klaar op die derde dag van die maand Adar; dit was die sesde jaar van die regering van koning Daríus.

16. EN die kinders van Israel, die priesters en die Leviete en die ander, uit die ballingskap afkomstig, het die inwyding van hierdie huis van God met vreugde gevier.

Lees volledige hoofstuk Esra 6