Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 46:8-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En as die vors ingaan, moet hy deur die voorportaal van die poort ingaan en met dieselfde weg weer uitgaan.

9. Maar as die volk van die land voor die aangesig van die Here kom op die feestye, moet hy wat deur die noordpoort ingaan om te aanbid, deur die suidpoort uitgaan; en hy wat deur die suidpoort ingaan, moet deur die noordpoort uitgaan; hy mag nie teruggaan deur die poort waardeur hy ingegaan het nie, maar moet reguit vorentoe uitgaan.

10. En die vors moet tussen hulle ingaan as hulle ingaan; en as hulle uitgaan, moet hy saam uitgaan.

11. Verder moet op die feeste en op die feestye die spysoffer wees: ’n efa vir ’n bul en ’n efa vir ’n ram, maar vir die lammers, wat sy hand kan gee; en ’n hin olie vir ’n efa.

12. En as die vors ’n vrywillige offer gereedmaak, ’n brandoffer of dankoffers as vrywillige offer aan die Here, dan moet hulle vir hom die poort oopmaak wat na die ooste kyk; en hy moet sy brandoffer en sy dankoffers berei soos hy op die sabbatdag doen; en as hy uitgaan, moet hulle die poort sluit nadat hy uitgegaan het.

13. Verder moet jy ’n jaaroud lam sonder gebrek daagliks berei as brandoffer aan die Here; elke môre moet jy dit berei.

14. En jy moet elke môre daarby as spysoffer gereedmaak: ’n sesde van ’n efa en ’n derde van ’n hin olie om die fynmeel te bevogtig, as spysoffer aan die Here — ewige insettinge, altyddeur.

15. So moet hulle dan die lam en die spysoffer en die olie elke môre berei as ’n voortdurende brandoffer.

16. So sê die Here Here: As die vors aan een van sy seuns ’n geskenk gee van sy erfdeel, dan moet dit vir sy seuns wees: dit is hulle besitting as erfenis.

17. Maar as hy van sy erfdeel ’n geskenk aan een van sy dienaars gee, dan sal dit syne wees tot by die jaar van vrylating; dan moet dit aan die vors terugval; net vir sy seuns moet sy erfdeel wees.

18. En die vors mag niks neem van die erfdeel van die volk om hulle uit hul besitting te verdring nie; van sy besitting moet hy aan sy seuns ’n erfdeel gee, sodat my volk nie verstrooi word elkeen uit sy besitting nie.

19. Daarop het hy my gebring deur die ingang wat by die symuur van die poort was, na die heilige kamers vir die priesters wat na die noorde kyk; en kyk, daar was ’n plek aan die agterkant, na die weste toe.

20. En hy het vir my gesê: Dit is die plek waar die priesters die skuldoffer en die sondoffer moet kook, waar hulle die spysoffer moet bak, dat hulle dit nie uitbring in die buitenste voorhof waardeur hulle die volk sou heilig nie.

21. Toe het hy my uitgebring in die buitenste voorhof en my verder gelei na die vier hoeke van die voorhof; en kyk, in elke hoek van die voorhof was daar nog ’n voorhof.

22. In die vier hoeke van die voorhof was daar afgeslote voorhowe, veertig el die lengte en dertig die breedte; al vier die hoekruimtes het dieselfde afmeting gehad.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 46