Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 43:2-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid.

3. En die gesig wat ek gesien het, het gelyk soos die gesig wat ek gesien het by my koms om die stad te verwoes; en dit was gesigte soos die gesig wat ek gesien het by die Kebarrivier; en ek het op my aangesig geval.

4. En die heerlikheid van die Here het in die huis ingetrek deur die poort waarvan die voorkant na die ooste lê.

5. En die Gees het my opgeneem en my in die binneste voorhof gebring; en kyk, die heerlikheid van die Here het die huis vervul.

6. En ek het Een gehoor wat met my spreek uit die huis, terwyl die man by my staan.

7. En Hy het vir my gesê: Mensekind, dit is die plek van my troon en die plek van my voetsole waar Ek vir ewig sal woon onder die kinders van Israel; en die huis van Israel sal my heilige Naam nie meer verontreinig nie, hulle en hulle konings met hulle hoerery en met die lyke van hulle konings, by hulle dood;

8. deurdat hulle hul drumpel by my drumpel gemaak het en hul deurpos langs my deurpos, sodat net die muur tussen My en hulle was; en hulle het my heilige Naam verontreinig met hulle gruwels wat hulle bedryf het, sodat Ek hulle in my toorn verteer het.

9. Nou sal hulle hul hoerery en die lyke van hul konings ver van My af verwyder; en Ek sal vir ewig onder hulle woon.

10. Jy, o mensekind, vertel die huis van Israel van die huis, sodat hulle beskaamd kan staan vanweë hul ongeregtighede, en laat hulle die voorbeeld nameet.

11. En as hulle beskaamd staan oor alles wat hulle gedoen het, maak hulle dan bekend die vorm van die huis en sy inrigting en sy uitgange en sy ingange en al sy vorme en al sy verordeninge, ja, al sy vorme en al sy wette; en skrywe dit voor hulle oë op, sodat hulle sy hele vorm kan bewaar en al sy verordeninge en dié kan uitvoer.

12. Dit is die wet van die huis: Op die top van die berg sal sy hele gebied al rondom hoogheilig wees. Kyk, dit is die wet van die huis.

13. EN dit is die afmetinge van die altaar in elle (die el is ’n el en ’n handbreedte): die voetlaag ’n el hoog en ’n el die breedte; en die opstaande rand daarvan aan die buitekant daarvan rondom: een span; en dit is die onderbou van die altaar.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 43