Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 40:33-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

33. Ook sy sykamers en sy deurposte en sy voorportaal volgens die vorige afmetinge; en dit het vensters gehad, ook sy voorportaal, al rondom; die lengte was vyftig el en die breedte vyf-en-twintig el.

34. En sy voorportaal het na die buitenste voorhof gelê; ook was daar palmbome op sy deurposte aan weerskante; en sy trap het agt trappies gehad.

35. Daarop het hy my na die noordpoort gebring; en hy het gemeet volgens die vorige afmetinge:

36. sy sykamers, sy deurposte en sy voorportaal; ook het dit vensters gehad al rondom; die lengte was vyftig el en die breedte vyf-en-twintig el.

37. En sy voorportaal was na die buitenste voorhof toe; ook was daar palmbome op sy deurposte aan weerskante; en sy trap het agt trappies gehad.

38. En ’n kamer met sy ingang was by die deurposte by die poorte; daar het hulle die brandoffer afgespoel.

39. En in die voorportaal van die poort was twee tafels aan die een en twee tafels aan die ander kant om daarop die brandoffer en die sondoffer en die skuldoffer te slag.

40. En aan die buitenste symuur, noord van wie na die ingang van die poort opgaan, was twee tafels; en aan die ander symuur wat by die voorportaal van die poort was, twee tafels:

41. vier tafels aan die een en vier tafels aan die ander kant, by die symuur van die poort: agt tafels waar hulle op geslag het.

42. En daar was vier tafels vir die brandoffer, van gekapte klippe, die lengte anderhalf el, en die breedte anderhalf el, en die hoogte een el — daarop het hulle die gereedskap neergesit waarmee hulle die brandoffer en die slagoffer geslag het.

43. En die gaffelvormige hake van ’n handbreedte was aan die binnekant al rondom bevestig; en op die tafels was die offervleis.

44. En buitekant die binneste poort was twee kamers in die binneste voorhof, een aan die symuur van die noordpoort, met die voorkant na die suide toe; een was aan die symuur van die suidpoort, met die voorkant na die noorde toe.

45. En hy het vir my gesê: Hierdie kamer, waarvan die voorkant na die suide lê, is vir die priesters wat die diens van die huis waarneem.

46. En die kamer waarvan die voorkant na die noorde lê, is vir die priesters wat die diens van die altaar waarneem; dit is die seuns van Sadok wat uit die kinders van Levi na die Here mag nader kom om Hom te dien.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 40