Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 39:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN jy, mensekind, profeteer teen Gog en sê: So spreek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal.

2. En Ek sal jou weglok en jou lei en jou laat optrek uit die agterhoeke van die Noorde en jou laat kom op die berge van Israel.

3. Maar Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val.

4. Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is; aan die roofvoëls van allerhande vere en aan die wilde diere van die veld het Ek jou as voedsel gegee.

5. Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here Here.

6. En Ek sal ’n vuur slinger in Magog en onder hulle wat in die kuslande veilig woon; en hulle sal weet dat Ek die Here is.

7. En Ek sal my heilige Naam bekend maak onder my volk Israel en sal my heilige Naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal weet dat Ek die Here is, die Heilige in Israel.

8. Kyk, dit kom en gebeur, spreek die Here Here. Dit is die dag waarvan Ek gespreek het.

9. En die inwoners van die stede van Israel sal uitgaan en vuur maak en stook met die wapens: klein en groot skilde, met boë en pyle en knopkieries en spiese; en hulle sal daarmee vuur maak sewe jaar lank;

10. sodat hulle geen hout uit die veld sal dra of in die bosse sal kap nie, maar met die wapens vuur sal maak; en hulle sal plunder die wat hulle geplunder het, en berowe die wat hulle beroof het, spreek die Here Here.

11. En in dié dag sal Ek aan Gog ’n plek gee waar ’n graf sal wees in Israel, die dal van die trekkers aan die oostekant van die see, en dit sal vir die deurtrekkers die pad toemaak; en daar sal hulle Gog begrawe en sy hele menigte en dit noem: Die dal van Gog se menigte.

12. En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 39