Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 34:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die woord van die Here het tot my gekom en gesê:

2. Mensekind, profeteer teen die herders van Israel; profeteer en sê vir hulle, die herders: So spreek die Here Here: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie?

3. Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie;

4. julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid.

5. So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld en het verstrooid geraak.

6. My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek.

7. Daarom, o herders, hoor die woord van die Here:

8. So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, omdat my skape ’n prooi geword het en my skape as voedsel gedien het van al die wilde diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders na my skape nie vra nie; en die herders aan hulleself weiding verskaf, maar my skape nie laat wei nie —

9. daarom, o herders, hoor die woord van die Here!

10. So sê die Here Here: Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie, sodat die herders aan hulleself nie meer weiding sal verskaf nie; en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie.

11. Want so sê die Here Here: Kyk, hier is Ek, en Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg.

12. Soos ’n herder vir sy trop skape sorg op die dag as hy onder sy verspreide skape is, so sal Ek vir my skape sorg; en Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, op die dag van wolke en donkerheid.

13. En Ek sal hulle uitlei uit die volke en versamel uit die lande en hulle bring in hul land; en Ek sal hulle laat wei op die berge van Israel, in die klowe en in al die bewoonbare plekke van die land.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 34