Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 27:19-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Wedan en Jawan het uit Usal aan jou smee-yster as handelsartikel gelewer; kassie en kalmoes was onder jou koopware.

20. Dedan het met jou handel gedrywe in saalkleedjies om op te ry.

21. Arabië en al die vorste van Kedar, hulle was die koopmans wat tot jou beskikking gestaan het; lammers en ramme en bokke — daarin het hulle met jou handel gedrywe.

22. Die koopmans van Skeba en Raëma, hulle was jou koopmans; die fynste van allerhande speserye en allerhande edelgesteentes en goud het hulle as handelsartikels aan jou gelewer.

23. Haran en Kanne en Eden, die koopmans van Skeba, Assur en Kilmad het met jou handel gedrywe.

24. Hulle was jou koopmans in pragtige klerasie, in mantels van pers stof en veelkleurige goed en in bont geweefde tapyte, in gevlegte en gedraaide toue, op jou mark.

25. Die skepe van Tarsis het jou koopware vir jou aangevoer, sodat jy vol en baie heerlik geword het in die hart van die seë.

26. Die wat jou geroei het, het jou op groot waters gebring; die Oostewind het jou verbreek in die hart van die seë.

27. Jou goed en jou handelsartikels, jou koopware, jou seevaarders en jou stuurmanne, die wat jou lekplekke reggemaak het en die wat jou koopware verhandel het, en al jou krygsmanne wat in jou is, saam met jou hele menigte wat in jou is — hulle sal val in die hart van die seë op die dag van jou val.

28. Van die harde geskreeu van jou stuurmanne sal die oop velde bewe.

29. En almal wat die roeispaan hanteer, sal van hulle skepe afklim; die seevaarders, al die stuurmanne van die see, sal op die land gaan staan.

30. En hulle sal hul stem oor jou laat hoor en bitterlik skreeu; en hulle sal stof op hul hoofde gooi, hulle wentel in die as.

31. En hulle sal om jou ontwil ’n kaal plek skeer en rouklere aangord en oor jou ween met bitterheid van siel, in ’n bitter rouklag.

32. En hulle sal in hul weeklag oor jou ’n klaaglied aanhef en oor jou sing: Wie was soos Tirus, die doodstille daar in die see?

Lees volledige hoofstuk Eségiël 27