Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 23:27-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. So sal Ek dan by jou ’n einde maak aan jou skandelike dade en jou hoerery, uit Egipteland afkomstig; en jy sal jou oë nie na hulle opslaan en aan Egipte nie meer dink nie.

28. Want so sê die Here Here: Kyk, Ek sal jou oorgee in die hand van hulle wat jy haat, in die hand van hulle van wie jou siel vervreemd geraak het.

29. En hulle sal jou as vyand behandel en al jou goed wegneem en jou naak en bloot laat staan, sodat jou ontugtige skaamte ontbloot kan word. Ja, jou skandelike dade en jou hoererye

30. het jou dit aangedoen deurdat jy agter nasies aan gehoereer het en omdat jy met hulle drekgode verontreinig is.

31. In die weg van jou suster het jy gewandel; daarom sal Ek haar beker in jou hand gee.

32. So sê die Here Here: Jy sal die beker van jou suster drink wat diep en wyd is — jy sal tot ’n belagging en ’n spot word — die beker wat so baie bevat.

33. Van dronkenskap en kommer sal jy vol word; die beker van jou suster Samaría is ’n beker van huiwering en ontsetting.

34. En jy sal dit drink en uitsuig en aan sy skerwe knaag en jou borste oopskeur; want Ek het dit gespreek, spreek die Here Here.

35. Daarom, so sê die Here Here: Omdat jy My vergeet het en My agter jou rug gewerp het, so dra jy dan ook nou jou skandelike dade en jou hoererye.

36. En die Here het vir my gesê: Mensekind, wil jy Ohóla en Ohóliba oordeel? Maak hulle dan hul gruwels bekend.

37. Want hulle het owerspel begaan, en daar is bloed aan hulle hande: met hul drekgode het hulle owerspel begaan en ook hul seuns wat hulle vir My gebaar het, as spys vir hulle deur die vuur laat deurgaan.

38. Verder het hulle My dít aangedoen: hulle het my heiligdom op dieselfde dag verontreinig en my sabbatte ontheilig —

39. as hulle hul kinders vir hulle drekgode slag, kom hulle op dieselfde dag na my heiligdom om dit te ontheilig; en kyk, so het hulle gedoen binne-in my huis.

40. Ja, hulle het selfs na manne gestuur wat van ver gekom het — aan wie ’n boodskapper gestuur is, en kyk, hulle het gekom! — vir wie jy jou gewas, jou oë geverf en sierade aangesit het.

41. En jy het gesit op ’n pragtige bed waarvoor ’n tafel reggemaak is en waar jy my reukwerk en my olie op neergesit het;

42. en daarbinne was die stem van ’n sorgelose menigte. En by manne uit die menigte van mense is daar wynsuipers aangebring uit die woestyn; dié het armbande aan hulle hande gesit en ’n pragtige kroon op hulle hoofde.

43. Toe sê Ek: Bedryf die verwelkte nog owerspel? Nou sal haar hoererye self hoerery gaan bedrywe.

44. En hulle het by haar ingegaan soos ’n mens ingaan by ’n hoer; só het hulle ingegaan by Ohóla en Ohóliba, die ontugtige vroue.

45. En regverdige manne, dié sal hulle vonnis volgens die reg van owerspeelsters en volgens die reg van vroue wat bloed vergiet; want hulle is owerspeelsters, en bloed is aan hulle hande.

46. Want so sê die Here Here: Laat hulle teen hulle ’n vergadering oproep en hulle tot ’n skrikbeeld maak en ’n plundering.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 23