Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 21:21-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. Want die koning van Babel gaan staan waar die paaie uitmekaarloop, by die begin van die twee paaie, om van waarsêery gebruik te maak: hy skud die pyle, raadpleeg die huisgode, bekyk die lewer.

22. In sy regterhand is die lot: Jerusalem, om stormramme op te stel, om die mond met geskreeu oop te maak, om die stem te verhef met krygsgeroep, om stormramme op te stel teen die poorte, om ’n wal op te werp, om forte te bou.

23. Maar dit is vir hulle soos ’n bedrieglike waarsêery in hul oë (die plegtigste eedsweringe tog is hulle s’n!); maar hy bring die ongeregtigheid in herinnering, dat hulle gegryp kan word.

24. Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle jul ongeregtigheid in herinnering bring deurdat julle oortredinge openbaar word, sodat julle sondes in al jul handelinge gesien word — omdat julle in herinnering gebring is, sal julle met die hand gegryp word.

25. En jy, onheilige, goddelose, vors van Israel, wie se dag gekom het in die tyd van die uiteindelike afrekening —

26. so sê die Here Here: Die tulband moet weg, en die kroon moet af! Dit bly nie so nie: Na bo met wat nederig is! Na onder met wat hoog is!

27. Puinhoop, puinhoop, puinhoop sal Ek dit maak. Ook dit sal nie bly nie — totdat Hy kom wat daarop reg het, en aan Hom sal Ek dit gee.

28. En jy, mensekind, profeteer en sê: So spreek die Here Here aangaande die kinders van Ammon en hulle smaadrede; en jy moet sê: ’n Swaard, ’n swaard is getrek om te slag; dit is geskuur tot die uiterste toe om soos ’n weerligstraal te wees —

29. onderwyl hulle vir jou, o swaard, ’n bedrieglike gesig sien, onderwyl hulle vir jou leuens voorspel — dat jy gesit sou word op die nekke van goddelose wat onheilig is, wie se dag gekom het in die tyd van uiteindelike afrekening!

30. Steek dit weer in die skede. In die plek waar jy geskape is, in die land van jou oorsprong, sal Ek jou oordeel.

31. En Ek sal oor jou my toorn uitgiet; Ek sal op jou blaas met die vuur van my grimmigheid en jou oorgee in die hand van barbare, mense wat verderf smee.

32. Voedsel sal jy wees vir die vuur; jou bloed sal binne-in die land wees; aan jou sal nie meer gedink word nie; want Ek, die Here, het dit gespreek.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 21