Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 20:9-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies onder wie hulle gewees het nie, voor wie se oë Ek My bekend gemaak het aan hulle, om hulle uit Egipteland uit te lei.

10. En Ek het hulle uit Egipteland uitgelei en hulle in die woestyn gebring.

11. En Ek het hulle my insettinge gegee en my verordeninge aan hulle bekend gemaak, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe.

12. Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die Here, is wat hulle heilig.

13. Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn; hulle het nie in my insettinge gewandel nie en my verordeninge verwerp, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en my sabbatte het hulle baie ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig.

14. Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie.

15. So het Ek dan ook my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek aan hulle gegee het nie, wat oorloop van melk en heuning — ’n sieraad is dit van al die lande;

16. omdat hulle my verordeninge verwerp het en in my insettinge nie gewandel het nie en my sabbatte ontheilig het; want hulle hart het agter hul drekgode aan geloop.

17. Maar my oog het hulle verskoon, sodat Ek hulle nie verdelg het nie en geen einde aan hulle gemaak het in die woestyn nie.

18. Maar Ek het aan hulle kinders in die woestyn gesê: Wandel nie in die insettinge van julle vaders nie en onderhou nie hulle verordeninge nie en verontreinig julle nie met hulle drekgode nie.

19. Ek is die Here julle God; wandel in my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit.

20. En heilig my sabbatte; en hulle sal ’n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die Here julle God is.

21. Maar die kinders was wederstrewig teen My: hulle het nie gewandel in my insettinge en my verordeninge nie onderhou om dit te doen nie — wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; hulle het my sabbatte ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn te laat uitwoed teen hulle in die woestyn.

22. Maar Ek het my hand teruggetrek en gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie.

23. Tog het Ék my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle sal versprei onder die nasies en hulle sal verstrooi in die lande;

24. omdat hulle my verordeninge nie gehou het nie, maar my insettinge verwerp het en my sabbatte ontheilig het en hulle oë agter die drekgode van hulle vaders aan was.

25. So het Ék dan ook aan hulle insettinge gegee wat nie goed was nie, en verordeninge waardeur hulle nie sou lewe nie.

26. En Ek het hulle verontreinig deur hulle offergawes, omdat hulle deur die vuur laat deurgaan het alles wat die moederskoot open; sodat Ek hulle kon vernietig, dat hulle sou weet dat Ek die Here is.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 20