Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 16:27-44 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. En kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek en die vir jou bestemde deel verminder; en Ek het jou oorgegee aan die hebsug van die wat jou haat, die dogters van die Filistyne wat hulle geskaam het oor jou ontugtige wandel.

28. Verder het jy gehoereer met die kinders van Assur, omdat jy nie bevredig was nie; ja, jy het met hulle gehoereer en is tog nie bevredig nie.

29. En jy het jou hoerery vermenigvuldig na die koopmansland, na Chaldéa; en ook daarmee is jy nie bevredig nie.

30. Hoe smagtend is jou hart, spreek die Here Here, dat jy al hierdie dinge gedoen het, die werk van ’n onbeskaamde hoer;

31. dat jy jou verwulf by elke uitdraaiplek gebou en jou hoogte op elke plein gemaak het! Maar jy was nie eens soos ’n hoer nie, deurdat jy hoereloon gering geag het.

32. o Die vrou wat owerspel bedrywe! Terwyl sy onder haar man staan, het sy vreemdes aangeneem.

33. Hulle gee geskenke aan al die hoere, maar jy het jou geskenke aan al jou minnaars gegee en hulle gifte aangebied om van alle kante na jou te kom in jou hoererye.

34. So was daar dan by jou in jou hoererye net die teendeel van die vroue, omdat hulle jou nie agternageloop het om te hoereer nie, en deurdat jy hoereloon gegee het terwyl aan jou geen hoereloon gegee is nie; daarom was jy die teendeel.

35. Daarom, o hoer, hoor die woord van die Here.

36. So sê die Here Here: Omdat jou koper uitgestort is en jou skaamte ontbloot is deur jou hoererye met jou minnaars en met al jou afskuwelike drekgode, en vanweë die bloed van jou kinders wat jy aan hulle gegee het,

37. daarom, kyk, Ek sal al jou minnaars versamel vir wie jy aangenaam was, en almal wat jy liefgehad het, saam met almal wat jy gehaat het; en Ek sal hulle van alle kante teen jou versamel en jou naaktheid vir hulle ontbloot, sodat hulle jou hele naaktheid kan sien.

38. En Ek sal jou oordeel volgens die verordeninge van vroue wat owerspel bedrywe en bloed vergiet, en sal jou oorgee aan die bloedige dood van grimmigheid en naywer.

39. En Ek sal jou in hulle hand oorgee, en hulle sal jou verwulf afbreek en jou hoogtes omgooi en jou jou klere uittrek en jou versiersels wegneem en jou naak en bloot laat staan.

40. Dan sal hulle teen jou ’n menigte laat optrek en jou stenig en jou met hulle swaarde stukkend kap.

41. Hulle sal ook jou huise met vuur verbrand en strafgerigte teen jou oefen voor die oë van baie vroue; en Ek sal ’n einde aan jou hoerery maak, en jy sal ook nie meer hoereloon gee nie.

42. En Ek sal my grimmigheid tot rus bring teen jou — dan sal my ywer van jou afwyk, en Ek sal stil word en nie meer toornig wees nie.

43. Omdat jy nie gedink het aan die dae van jou jeug nie en my toorn opgewek het met al hierdie dinge — kyk, so sal Ek dan ook jou wandel op jou hoof laat neerkom, spreek die Here Here; en het jy dan nie die skandelike daad gedoen bo al jou gruwels nie?

44. Kyk, elkeen wat spreekwoorde maak, sal ’n spreuk op jou toepas, naamlik: Soos die moeder, so haar dogter.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 16