Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 14:2-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Toe het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

3. Mensekind, hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit — sou Ek My dan werklik deur hulle laat raadpleeg?

4. Daarom, spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here Here: Elke man uit die huis van Israel wat sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom — Ek, die Here, sal hom daarvolgens, volgens die menigte van sy drekgode, antwoord gee;

5. sodat Ek die huis van Israel in hulle hart kan gryp, omdat hulle almal deur hul drekgode hul van My afgewend het.

6. Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here Here: Bekeer julle en wend julle af van julle drekgode en wend julle aangesig af van al julle gruwels.

7. Want elke man uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat hom afsonder en My nie navolg nie en sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom, dat dié My vir hom kan raadpleeg — hom sal Ek, die Here, self antwoord gee.

8. Ek sal my aangesig rig teen dié man en hom tot ’n teken en ’n voorwerp van spot maak, en Ek sal hom uitroei uit die midde van my volk; en julle sal weet dat Ek die Here is.

9. En as die profeet hom laat verlei om ’n woord te spreek — Ek, die Here, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel.

10. En hulle moet hul ongeregtigheid dra: soos die ongeregtigheid van die vraer, so sal die ongeregtigheid van die profeet wees;

11. sodat die huis van Israel nie meer agter My wegdwaal nie en hulle nie meer verontreinig met al hul oortredinge nie. Dan sal hulle vir My ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees, spreek die Here.

12. VERDER het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

13. Mensekind, as ’n land teen My sondig deur troubreuk te begaan, en Ek my hand daarteen uitstrek en die staf van die brood daarvan verbreek en ’n hongersnood daarin stuur, en Ek daaruit mens en dier uitroei —

14. al was hierdie drie manne, Noag, Daniël en Job, daarin, dan sou hulle deur hul geregtigheid net hulle eie siel red, spreek die Here Here.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 14