Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 12:11-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Sê: Ek is julle sinnebeeld; soos ek gedoen het, so sal met hulle gedoen word: in ballingskap, in gevangenskap sal hulle gaan.

12. En die vors wat onder hulle is, sal die goed op die skouer dra, in die pikdonker, en hy sal uitgaan; hulle sal ’n gat in die muur breek om daardeur uit te bring; hy sal sy aangesig bedek, omdat hy self die land met die oog nie sal sien nie.

13. En Ek sal my net oor hom uitsprei, en in my strik sal hy gevang word; en Ek sal hom na Babel, na die land van die Chaldeërs bring; maar hy sal dit nie sien nie, en daar sal hy sterwe.

14. En almal wat rondom hom is, sy hulp, en al sy leërs sal Ek na al die windstreke verstrooi en die swaard agter hulle uittrek.

15. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is, as Ek hulle onder die nasies versprei en hulle in die lande verstrooi;

16. maar Ek sal van hulle ’n klein klompie laat oorbly van die swaard, die hongersnood en die pes, sodat hulle al húlle gruwels kan vertel onder die nasies waar hulle kom; en dié sal weet dat Ek die Here is.

17. Daarna het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

18. Mensekind, jy moet jou brood met bewing eet en jou water met siddering en kommer drink.

19. En jy moet aan die mense van die land sê: So spreek die Here Here aangaande die inwoners van Jerusalem, in die land Israel: Hulle sal hul brood met kommer eet en hul water in stomme smart drink, sodat hulle land, van sy volheid beroof, woes sal lê vanweë die geweldpleging van almal wat daarin woon.

20. En die stede wat bewoon is, sal woes word, en die land sal ’n wildernis wees; en julle sal weet dat Ek die Here is.

21. EN die woord van die Here het tot my gekom en gesê:

22. Mensekind, wat is dit vir ’n spreekwoord wat julle het in die land van Israel, naamlik: Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie.

23. Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here Here: Ek maak ’n einde aan hierdie spreekwoord, sodat hulle dit nie meer as spreekwoord in Israel sal gebruik nie. Maar sê vir hulle: Die dae is naby, en die woord van elke gesig.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 12