Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 11:13-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En terwyl ek profeteer, het Pelátja, die seun van Benája, gesterwe. Toe het ek op my aangesig geval en hardop uitgeroep en gesê: Ag, Here Here, wil U ’n einde maak aan die oorblyfsel van Israel?

14. Toe het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

15. Mensekind, jou broers, jou broers, die manne wat aan jou verwant is, en die hele huis van Israel, almal saam, van wie die inwoners van Jerusalem sê: Bly ver van die Here af, aan óns is dit, die land, as besitting gegee —

16. Daarom sê: So spreek die Here Here: Omdat Ek hulle ver weggedryf het onder die nasies, en omdat Ek hulle verstrooi het in die lande en Ek vir hulle ’n kort rukkie ’n heiligdom geword het in die lande waar hulle gekom het —

17. daarom sê: So spreek die Here Here: Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee.

18. En hulle sal daarnatoe kom en al sy verfoeisels en al sy gruwels daaruit verwyder.

19. En Ek sal hulle een hart gee, en ’n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ’n hart van vlees gee,

20. sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen; en hulle sal vir my ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees.

21. Maar hulle wie se hart agter die hart van hulle verfoeisels en hulle gruwels aan loop — hulle wandel laat Ek op hul hoof neerkom, spreek die Here Here.

22. Toe het die gérubs hulle vlerke opgehef en die wiele gelyktydig met hulle saam, terwyl die heerlikheid van die God van Israel bo-oor hulle was.

23. En die heerlikheid van die Here het opgestyg uit die stad uit weg en het gaan staan op die berg wat oos van die stad lê.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 11