Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 28:50-65 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

50. ’n nasie hard van aangesig, wat ’n grysaard nie ontsien en vir ’n seun geen genade het nie.

51. En hulle sal die vrug van jou vee en die vrugte van jou land opeet totdat jy verdelg is; wat vir jou geen koring, mos of olie, aanteel van jou beeste of aanteel van jou kleinvee sal laat oorbly totdat hulle jou tot niet gemaak het nie.

52. En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het; ja, hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte in jou hele land wat die Here jou God jou gegee het.

53. En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die Here jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak.

54. Die vertroetelde en baie verwénde man by jou — sy oog sal sy broer en die vrou wat hy liefhet, en sy orige kinders wat hy nog behou het, skeef aankyk;

55. sodat hy aan geeneen van hulle iets sal gee van die vlees van sy kinders wat hy eet nie, omdat daar vir hom niks anders oorgelaat is in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou poorte benoud sal maak nie.

56. Die vertroetelde en verwénde vrou by jou wat van verwendheid en weekheid nooit probeer het om haar voetsool op die grond neer te sit nie — haar oog sal die man wat sy liefhet en haar seun en haar dogter skeef aankyk,

57. ook haar nageboorte wat tussen haar voete uitgaan, en haar kinders wat sy sal baar; want sy sal dit stilletjies eet by gebrek aan alles in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou poorte benoud sal maak.

58. As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die Here jou God, te vrees nie,

59. dan sal die Here oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en aanhoudende plae, en kwaadaardige en aanhoudende siektes;

60. en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was, sodat hulle jou aanklewe.

61. Ook allerhande siektes en allerhande plae wat in die boek van hierdie wet nie geskrywe is nie, dié sal die Here teen jou laat opkom totdat jy verdelg is.

62. En julle sal met min mense oorbly, in plaas dat julle gewees het soos die sterre van die hemel in menigte, omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God nie.

63. En soos die Here oor julle bly was om aan julle goed te doen en julle te vermenigvuldig, so sal die Here oor julle bly wees om julle tot niet te maak en julle te verdelg; en julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.

64. En die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde; en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien, wat jy en jou vaders nie geken het nie.

65. En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie, en vir jou voetsool sal daar geen rusplek wees nie; maar die Here sal jou daar ’n bewende hart gee en smagtende oë en ’n kwynende siel.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 28