Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 24:8-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Neem jou in ag by die plaag van melaatsheid om baie noukeurig te handel volgens alles wat die Levitiese priesters julle sal leer; soos ek hulle beveel het, moet julle dit sorgvuldig hou.

9. Dink aan wat die Here jou God op die pad, by julle uittog uit Egipte, aan Mirjam gedoen het.

10. As jy aan jou naaste enigiets leen, mag jy in sy huis nie ingaan om sy pand te gaan haal nie;

11. buite moet jy bly staan, en die man aan wie jy geleen het, moet die pand vir jou buitentoe uitbring.

12. En as hy ’n arm man is, moet jy met sy pand nie gaan slaap nie.

13. Jy moet hom sekerlik teen sonsondergang die pand teruggee, dat hy in sy kleed kan slaap en jou kan seën; en dit sal geregtigheid vir jou wees voor die aangesig van die Here jou God.

14. Jy mag ’n arm en behoeftige dagloner uit jou broers of uit jou vreemdelinge wat in jou land in jou poorte is, nie verdruk nie.

15. Op die dag self moet jy sy loon gee, sodat die son oor hom nie ondergaan nie — want hy is arm en sy siel verlang daarna — dat hy nie teen jou tot die Here roep en dit sonde in jou word nie.

16. Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.

17. JY mag die reg van vreemdeling en wees nie verdraai nie en die kleed van ’n weduwee nie as pand neem nie.

18. Maar jy moet daaraan dink dat jy ’n slaaf was in Egipte en die Here jou God jou daaruit verlos het; daarom beveel ek jou om hierdie saak te doen.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 24