Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 22:17-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. en kyk, hy het haar slegte dinge nagegee deur te sê: Ek het aan jou dogter die maagdom nie gevind nie — maar dit is die bewys van my dogter se maagdom. En hulle moet die kledingstuk voor die oudstes van die stad uitsprei.

18. Dan moet die oudstes van dié stad die man neem en hom tugtig

19. en hom ’n boete van honderd sikkels silwer oplê en dit aan die vader van die dogter gee, omdat hy ’n slegte gerug oor ’n jongmeisie van Israel versprei het. Verder moet sy sy vrou wees; hy mag haar nie verstoot solank as hy lewe nie.

20. Maar as hierdie woord waarheid is: Die maagdom is aan die dogter nie gevind nie —

21. dan moet hulle die dogter na die deur van haar vader se huis uitbring, en die manne van haar stad moet haar stenig, dat sy sterwe, omdat sy ’n skanddaad in Israel begaan het deur in die huis van haar vader te hoereer. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.

22. AS ’n man betrap word terwyl hy met ’n getroude vrou gemeenskap het, moet hulle altwee sterwe: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het, en die vrou. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.

23. As ’n dogter, ’n jongmeisie, aan ’n man verloof is, en iemand kry haar in die stad en hou met haar gemeenskap,

24. dan moet julle hulle twee na die poort van dié stad uitbring en hulle stenig, dat hulle sterwe; die dogter, omdat sy in die stad nie geskreeu het nie, en die man, omdat hy die vrou van sy naaste onteer het. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.

25. Maar as die man die verloofde dogter in die veld kry en die man haar aangryp en met haar gemeenskap het, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, alleen sterwe;

26. maar aan die dogter moet jy niks doen nie: daar is in die dogter geen sonde wat die dood verdien nie; want soos wanneer ’n man teen sy naaste opstaan en hom doodslaan, so is hierdie geval.

27. Want hy het haar in die veld gekry; die verloofde dogter het geskreeu, maar daar was niemand om haar te help nie.

28. As ’n man ’n dogter, ’n jongmeisie, kry wat nie verloof is nie, en haar aangryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap,

29. dan moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, die vader van die dogter vyftig sikkels silwer gee; en sy moet sy vrou wees, omdat hy haar onteer het; hy mag haar nie verstoot solank as hy lewe nie.

30. ’n Man mag die vrou van sy vader nie neem nie, en hy mag die kombers van sy vader nie oplig nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 22