Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 2:7-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Want die Here jou God het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hierdie groot woestyn; nou veertig jaar lank was die Here jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie.

8. Daarop het ons verder getrek, weg van ons broers, die kinders van Esau wat in Seïr woon, weg van die pad deur die Vlakte, weg van Elat en Éseon-Geber; ons het toe weggedraai en verder getrek op pad na die woestyn van Moab.

9. Toe het die Here vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ’n besitting gegee het.

10. Die Emiete het tevore daarin gewoon, ’n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete.

11. Hulle word ook vir Refaïete gehou, soos die Enakiete; maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.

12. Ook het die Horiete tevore in Seïr gewoon; maar die kinders van Esau het hulle uit hul besitting verdrywe en voor hulle uit verdelg en in hulle plek gaan woon, net soos Israel gedoen het met die land van sy besitting wat die Here aan hulle gegee het.

13. Maak nou klaar en trek oor die spruit Sered. Toe het ons oor die spruit Sered getrek.

14. En die dae van ons trek van Kades-Barnéa af totdat ons oor die spruit Sered gegaan het, was agt-en-dertig jaar — totdat die hele geslag, die krygsmanne, uit die laer omgekom het soos die Here hulle dit gesweer het.

15. So was die hand van die Here dan ook teen hulle om hulle uit die laer te vernietig totdat hulle omgekom het.

16. En toe al die krygsmanne heeltemal onder die volk uit weggesterf het,

17. het die Here met my gespreek en gesê:

18. Jy trek vandag die grens van Moab by Ar oor,

19. en jy sal kom in die nabyheid van die kinders van Ammon; behandel hulle nie as vyande en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van die kinders van Ammon se land as besitting gee nie, omdat Ek dit aan die kinders van Lot as besitting gegee het.

20. Dit word ook as ’n land van Refaïete beskou; Refaïete het tevore daarin gewoon, en die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem —

21. ’n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete — maar die Here het dié voor hulle uit verdelg, sodat hulle dié uit hulle besitting verdryf en in hulle plek gaan woon het;

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 2