Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 2:15-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. So was die hand van die Here dan ook teen hulle om hulle uit die laer te vernietig totdat hulle omgekom het.

16. En toe al die krygsmanne heeltemal onder die volk uit weggesterf het,

17. het die Here met my gespreek en gesê:

18. Jy trek vandag die grens van Moab by Ar oor,

19. en jy sal kom in die nabyheid van die kinders van Ammon; behandel hulle nie as vyande en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van die kinders van Ammon se land as besitting gee nie, omdat Ek dit aan die kinders van Lot as besitting gegee het.

20. Dit word ook as ’n land van Refaïete beskou; Refaïete het tevore daarin gewoon, en die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem —

21. ’n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete — maar die Here het dié voor hulle uit verdelg, sodat hulle dié uit hulle besitting verdryf en in hulle plek gaan woon het;

22. soos Hy in die geval van die kinders van Esau gedoen het wat in Seïr woon, voor wie Hy die Horiete verdelg het, sodat hulle dié uit hulle besitting verdryf en in hulle plek gaan woon het tot vandag toe.

23. Ook het die Kaftoriete wat uit Kaftor afkomstig was, die Awiete wat in dorpe tot by Gasa gewoon het, verdelg en in hulle plek gaan woon.

24. Maak julle klaar, breek op en trek deur die Arnonrivier. Kyk, Ek gee Sihon, die koning van Hesbon, die Amoriet, en sy land in jou hand; begin om in besit te neem, en begeef jou in die oorlog teen hom.

25. Vandag sal Ek begin om die skrik en die vrees vir jou op die volke onder die hele hemel te lê, sodat hulle, as hulle die tyding aangaande jou hoor, voor jou sal sidder en bewe van angs.

26. Toe het ek boodskappers gestuur uit die woestyn Kedémot na Sihon, die koning van Hesbon, met woorde van vrede om te sê:

27. Laat my deur jou land gaan; ek sal net padlangs trek; ek sal nie regs of links uitdraai nie.

28. Voedsel moet jy my verkoop vir geld, dat ek kan eet; en water moet jy my gee vir geld, dat ek kan drink; laat my net te voet deurtrek —

29. soos die kinders van Esau wat in Seïr woon, en die Moabiete wat in Ar woon, met my gedoen het — totdat ek deur die Jordaan trek in die land wat die Here onse God aan ons sal gee.

30. Maar Sihon, die koning van Hesbon, wou ons nie by hom laat deurtrek nie; want die Here jou God het sy gees verhard en sy hart verstok, dat Hy hom in jou hand kon gee soos dit vandag is.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 2