Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 1:9-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie.

10. Die Here julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte.

11. Mag die Here, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het!

12. Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra?

13. Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel.

14. Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer.

15. Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme.

16. En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ’n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is.

17. Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.

18. So het ek julle dan in dié tyd al die dinge beveel wat julle moet doen.

19. Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die Here onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 1