Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 1:13-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel.

14. Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer.

15. Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme.

16. En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ’n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is.

17. Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.

18. So het ek julle dan in dié tyd al die dinge beveel wat julle moet doen.

19. Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die Here onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom.

20. Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die Here onse God aan ons sal gee.

21. Kyk, die Here jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die Here, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie.

22. Toe het julle almal na my toe aangekom en gesê: Laat ons manne voor ons uit stuur, dat hulle vir ons die land kan verken en ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek, en die stede waarby ons sal kom.

23. En die saak was goed in my oë, sodat ek twaalf man uit julle, uit elke stam een man, geneem het.

24. En hulle het weggedraai en na die gebergte opgetrek en tot by die dal Eskol gekom en dit verken.

25. Hulle het toe van die vrugte van die land met hulle saamgeneem en dit na ons afgebring en aan ons verslag gegee en gesê: Die land wat die Here onse God aan ons sal gee, is goed.

26. Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die Here julle God.

27. En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg.

28. Waarheen moet ons optrek? Ons broers het ons hart laat versmelt deur te sê: Dit is ’n volk groter en hoër van gestalte as ons; die stede is groot en tot aan die hemel versterk; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.

29. Toe het ek aan julle gesê: Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie.

30. Die Here julle God wat voor jul uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het

31. en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die Here jou God jou gedra het soos ’n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 1