Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 6:2-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Dit het Daríus behaag om oor die koninkryk honderd-en-twintig landvoogde aan te stel wat in die hele koninkryk sou wees;

3. en oor hulle drie ministers, van wie Daniël een was, aan wie dié landvoogde rekenskap moes gee, sodat die koning nie sou skade ly nie.

4. Toe het hierdie Daniël bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat ’n voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel.

5. Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om ’n grond vir ’n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir ’n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie.

6. Daarop het dié manne gesê: Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.

7. Toe het hierdie ministers en landvoogde die koning bestorm en só vir hom gesê: Mag koning Daríus vir ewig lewe!

8. Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning ’n verordening moet uitvaardig en ’n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word.

9. Stel nou ’n verbod vas, o koning, en laat ’n bevelskrif skrywe wat volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is.

10. Hierom het koning Daríus die bevelskrif en die verbod geskrywe.

11. En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ’n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.

12. Daarop het daardie manne aangestorm en Daniël gevind terwyl hy bid en voor sy God om genade smeek.

13. Hulle het toe nader gekom en voor die koning oor die koninklike verbod gespreek: Het u nie ’n verbod geskrywe dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek doen aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie? Die koning het geantwoord en gesê: Die saak staan vas volgens onherroeplike wet van Meders en Perse.

14. Toe het hulle geantwoord en voor die koning gesê: Daniël, een van die Joodse ballinge, het hom aan u, o koning, en aan u verbod wat u geskrywe het, nie gesteur nie, maar drie maal op ’n dag doen hy sy gebed.

15. Toe die koning die woord hoor, het dit hom baie mishaag, en hy het planne beraam om Daniël te verlos, ja, tot sonsondergang toe het hy moeite gedoen om hom te red.

16. Daarop het daardie manne die koning bestorm en aan die koning gesê: Weet, o koning, dat dit ’n wet van Meders en Perse is dat elke verbod of verordening wat die koning vasgestel het, nie verander mag word nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 6