Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 4:3-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Hoe groot is sy tekens, en hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag!

4. Ek, Nebukadnésar, het rustig in my huis gelewe en was voorspoedig in my paleis.

5. Ek het ’n droomgesig gesien wat my verskrik het — droombeelde op my bed en die gesigte van my hoof het my verontrus.

6. Daarop is deur my bevel gegee om al die wyse manne van Babel voor my te bring, dat hulle my die uitlegging van die droom bekend kan maak.

7. Toe het die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers gekom, en ek het hulle die droom vertel, maar hulle het sy uitlegging my nie bekend gemaak nie;

8. totdat eindelik Daniël voor my ingekom het, wie se naam Béltsasar is, na die naam van my god, en in wie die gees van die heilige gode is; en ek het hom die droom vertel:

9. Béltsasar, owerste van die geleerdes, van wie ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen enkele geheim jou kwel nie, vertel my die droomgesigte wat ek gesien het, naamlik die uitlegging daarvan.

10. Wat nou die gesigte van my hoof op my bed betref — ek het gesien, en kyk, daar was ’n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was groot.

11. Die boom het groot geword en sterk, en sy hoogte het tot aan die hemel gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was.

12. Sy blare was mooi en sy vrugte baie, en aan hom was vir alles voedsel; onder hom het die diere van die veld skaduwee gesoek, en in sy takke het die voëls van die hemel gewoon, ja, alle vlees is daardeur gevoed.

13. Ek het in die gesigte van my hoof op my bed gesien, en kyk, ’n bode, naamlik ’n heilige, het uit die hemel neergedaal;

14. hy het hardop geroep en só gesê: Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke.

15. Maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met ’n band van yster en koper in die groen gras van die veld; en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en saam met die diere deel hê aan die plante van die aarde.

16. Laat sy hart anders word as dié van ’n mens en ’n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan.

17. Op ’n besluit van die bodes berus die bevel, en ’n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel.

18. Dit is die droomgesig wat ek, koning Nebukadnésar, gehad het; en jy, Béltsasar, sê my die uitlegging, omdat al die wyse manne van my koninkryk my die uitlegging nie kon bekend maak nie; maar jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou.

19. Toe het Daniël, wie se naam Béltsasar was, ’n oomblik verstom gestaan en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning het daarop gespreek en gesê: Béltsasar, laat die droom en die uitlegging jou nie verskrik nie. Béltsasar het geantwoord en gesê: My heer, mag die droom u haters en sy uitlegging u teëstanders oorkom.

20. Die boom wat u gesien het — wat groot en sterk geword het, en waarvan die hoogte tot aan die hemel gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was,

21. en waarvan die blare mooi en die vrugte baie gewees het, en waar voedsel vir alles aan was, waaronder die diere van die veld gehou en in die takke waarvan die voëls van die hemel gewoon het —

Lees volledige hoofstuk Daniël 4