Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 3:5-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. sodra julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.

6. En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.

7. Daarom het, op die oomblik toe al die volke die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en van allerhande musiekinstrumente hoor, al die volke, nasies en tale neergeval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.

8. Op grond daarvan het tegelykertyd Chaldeeuse manne nader gekom en die Jode aangeklaag.

9. Daarop het hulle met koning Nebukadnésar gespreek en gesê: Mag die koning vir ewig lewe!

10. U, o koning, het ’n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, moet neerval en die goue beeld aanbid;

11. en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word.

12. Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag en Abednégo; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie.

13. Toe het Nebukadnésar, toornig en woedend, bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te laat kom. Daarop is die manne voor die koning gebring.

14. En Nebukadnésar het gespreek en vir hulle gesê: Is dit met opset, Sadrag, Mesag en Abednégo, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek opgerig het, nie aanbid nie?

15. As julle dan nou, sodra julle die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed; maar as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?

16. Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ’n antwoord te gee nie.

17. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos;

18. maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.

19. Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was.

20. En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi.

21. Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi.

22. Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand.

Lees volledige hoofstuk Daniël 3