Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 5:9-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Hy wat verwoesting laat aanblits oor die sterke, en verwoesting kom oor die vesting!

10. Hulle haat die man wat in die poort die reg handhaaf, en hulle het ’n afsku van hom wat in opregtheid spreek.

11. Daarom, omdat julle die arm man vertrap en van hom ’n heffing van koring neem, het julle huise van gekapte klippe gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; julle het pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie.

12. Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is, julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort.

13. Daarom swyg die verstandige in so ’n tyd, want dit is ’n onheilspellende tyd.

14. Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die Here, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê.

15. Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort — miskien sal die Here, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef.

16. Daarom, so sê die Here, die God van die leërskare, die Here: Op al die pleine weeklag! En op al die strate sal hulle sê: Ag, ag! En hulle sal na die landbouer roep om te treur, en te weeklaag na die wat verstaan om treurliedere te sing.

17. Ook sal daar in al die wingerde weeklag wees wanneer Ek in jou midde deurtrek, sê die Here.

Lees volledige hoofstuk Amos 5