Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 7:21-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. Ter wille van u woord en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen, om dit aan u kneg bekend te maak.

22. Daarom is U groot, Here God! Want daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.

23. En wie is soos u volk, soos Israel, ’n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as ’n volk gaan verlos het, en om vir Hom ’n naam te maak; en om groot dinge te doen vir hulle en vreeslike dinge aan u land voor u volk uit wat U verlos het vir U van Egipte, van die heidene en hulle gode?

24. En U het u volk Israel vir U bevestig as ’n volk vir U tot in ewigheid; en U, Here, het vir hulle ’n God geword.

25. Laat dan nou, Here God, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, in vervulling gaan tot in ewigheid, en doen soos U gespreek het;

26. sodat u Naam groot kan wees tot in ewigheid deurdat hulle sê: Die Here van die leërskare is God oor Israel; en die huis van u kneg Dawid sal voor u aangesig bestendig wees.

27. Want U, Here van die leërskare, God van Israel, het die oor van u kneg geopen en gesê: Ek sal vir jou ’n huis bou; daarom het u kneg vrymoedigheid gevind om hierdie gebed tot U te bid.

28. En nou, Here Here, U is God en u woorde is waarheid; en U het u kneg hierdie goeie saak toegesê.

29. Laat dit U dan nou behaag en seën die huis van u kneg, sodat dit vir ewig voor u aangesig kan wees; want U, Here Here, het dit gespreek, en deur u seën sal die huis van u kneg vir ewig geseënd wees.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 7