Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 6:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAARNA het Dawid weer al die uitgesoektes in Israel, dertigduisend, versamel;

2. en Dawid het hom klaargemaak en met al die mense opgetrek wat by hom was, van Báäle-Juda, om die ark van God, waaroor die Naam uitgeroep is, die Naam van die Here van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan te gaan haal.

3. En hulle het die ark van God op ’n nuwe wa vervoer en dit uit die huis van Abinádab, wat op die heuwel is, gebring. Terwyl Ussa en Agjo, die seuns van Abinádab, die wa drywe,

4. met die ark van God, het Agjo voor die ark geloop.

5. En Dawid en die hele huis van Israel het voor die aangesig van die Here gespeel met allerhande instrumente van sipreshout, naamlik met siters en harpe en tamboeryne, en bekkens en simbale.

6. En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel.

7. Daarop het die toorn van die Here teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het.

8. En Dawid het ontroerd geword, omdat die Here ’n skeur aan Ussa geskeur het; daarom het hy daardie plek genoem Peres-Ussa, tot vandag toe.

9. En Dawid het daardie dag vir die Here bevrees geword en gesê: Hoe kan die ark van die Here na my kom?

10. Daarom wou Dawid nie die ark van die Here by hom in die stad van Dawid laat inkom nie, maar Dawid het dit na die huis van Obed-Edom, die Gittiet, laat wegdraai.

11. En die ark van die Here het drie maande lank in die huis van Obed-Edom, die Gittiet, gebly, en die Here het Obed-Edom en sy hele huis geseën.

12. En toe aan koning Dawid meegedeel is: Die Here het die huis van Obed-Edom en alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God, het Dawid gegaan en die ark van God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die stad van Dawid gebring.

13. En toe die draers van die ark van die Here ses treë geloop het, het hy ’n bees en ’n vetgemaakte kalf geoffer.

14. Daarby het Dawid met alle mag gedans voor die aangesig van die Here; en Dawid was omgord met ’n linneskouerkleed.

15. So het Dawid en die hele huis van Israel dan die ark van die Here met gejuig en basuingeklank opgehaal.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 6