Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 13:26-39 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. Daarop sê Absalom: So nie, laat my broer Amnon tog saam met ons gaan. Maar die koning sê vir hom: Waarom moet hy met jou saamgaan?

27. Toe Absalom dan by hom aanhou, het hy Amnon en al die seuns van die koning met hom saam laat gaan.

28. En Absalom het sy dienaars bevel gegee en gesê: Let tog op, net soos Amnon se hart vrolik is van die wyn en ek vir julle sê: Slaan Amnon dood! dan moet julle hom doodmaak. Wees nie bevrees nie; het ék julle dit nie beveel nie? Wees sterk en wees wakker manne.

29. En die dienaars van Absalom het met Amnon gedoen soos Absalom hulle beveel het. Toe het al die seuns van die koning opgestaan, en hulle het elkeen op sy muil geklim en gevlug.

30. Terwyl hulle op pad was, kom die gerug by Dawid: Absalom het al die seuns van die koning doodgeslaan en nie een van hulle het oorgebly nie.

31. Toe staan die koning op en skeur sy klere en gaan lê op die grond, terwyl al sy dienaars met geskeurde klere daarby staan.

32. Maar Jónadab, die seun van Dawid se broer Símea, het geantwoord en gesê: My heer moet nie dink dat hulle al die jongmanne, die seuns van die koning, gedood het nie, maar Amnon alleen is dood, want dit was aan die gesig van Absalom te sien van die dag af dat hy sy suster Tamar onteer het.

33. My heer die koning moet dit dan nou nie ter harte neem en dink al die seuns van die koning is dood nie. Maar Amnon alleen is dood.

34. En Absalom het gevlug. Toe die jongman wat op wag staan, sy oë opslaan, sien hy dat daar ’n groot skare kom van ’n pad agter hom, aan die kant van die berg.

35. En Jónadab sê aan die koning: Kyk, daar kom die seuns van die koning; volgens die woord van u dienaar, so het dit gebeur.

36. En net toe hy klaar gespreek het — daar kom die seuns van die koning aan en verhef hulle stem en ween. En ook die koning en al sy dienaars het geween met ’n baie groot geween.

37. Maar Absalom het gevlug en na Talmai, die seun van Ammíhur, die koning van Gesur, gegaan. En Dawid het al die dae gerou oor sy seun.

38. En Absalom het gevlug en na Gesur gegaan, en hy was daar drie jaar lank.

39. En die gees van koning Dawid het baie verlang om na Absalom uit te gaan, want hy het homself getroos oor Amnon, dat hy dood was.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 13