Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 12:8-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. en Ek het die huis van jou heer aan jou gegee, en die vroue van jou heer in jou skoot, en Ek het die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil voeg.

9. Waarom het jy die woord van die Here verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het.

10. En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees.

11. So sê die Here: Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee, sodat hy by jou vroue sal slaap voor die oog van hierdie son.

12. Want jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die hele Israel en in die volle sonlig.

13. En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die Here! En Natan sê vir Dawid: So het die Here dan ook u sonde vergewe: u sal nie sterf nie.

14. Maar omdat u die vyande van die Here deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te laster, sal die kind wat vir u gebore is, ook sekerlik sterwe.

15. Toe gaan Natan na sy huis. En die Here het die kind wat die vrou van Uría vir Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het.

16. En Dawid het die aangesig van God gesoek vir die kind, en Dawid het ’n tyd lank gevas en na binne gegaan en die hele nag deur op die grond gelê.

17. Daarop kom die oudstes van sy huis na hom en wou hom van die grond laat opstaan, maar hy wou nie; ook het hy geen brood saam met hulle geëet nie.

18. En op die sewende dag het die kind gesterwe; en die dienaars van Dawid was bevrees om hom te vertel dat die kind dood was, want hulle het gesê: Kyk, toe die kind nog in die lewe was, het ons met hom gespreek, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons dan vir hom sê: Die kind is dood! — hy kan ’n verkeerde ding doen.

19. Maar toe Dawid sien dat sy dienaars onder mekaar fluister, het Dawid gemerk dat die kind dood was. En Dawid sê aan sy dienaars: Is die kind dood? En hulle antwoord: Hy is dood.

20. Toe het Dawid van die grond opgestaan en hom gewas en gesalf en ander klere aangetrek en in die huis van die Here gegaan en aanbid. Daarop het hy in sy huis gekom en gevra dat hulle brood aan hom moet voorsit; en hy het geëet.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 12