Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 11:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN ná verloop van die jaar, teen die tyd dat die konings uittrek, stuur Dawid Joab en sy dienaars saam met hom uit en die hele Israel. En hulle het die land van die kinders van Ammon verniel en Rabba beleër, terwyl Dawid in Jerusalem gebly het.

2. En teen die aand, toe Dawid van sy bed opgestaan het en op die dak van die paleis wandel, sien hy van die dak af ’n vrou wat besig was om ’n bad te neem; en die vrou was baie mooi van aansien.

3. En Dawid het ondersoek laat doen na die vrou, en hulle het gesê: Is dit nie Bátseba, die dogter van Elíam, die vrou van Uría die Hetiet nie?

4. Daarop stuur Dawid boodskappers en laat haar haal. En toe sy by hom inkom, het hy met haar gemeenskap gehad, terwyl sy haar juis van haar onreinheid gereinig het. Daarna het sy na haar huis teruggegaan.

5. En die vrou het swanger geword en gestuur om Dawid te laat weet: Ek is swanger.

6. En Dawid het Joab laat weet: Stuur Uría, die Hetiet, na my. En Joab het Uría na Dawid gestuur.

7. Toe Uría dan by hom kom, vra Dawid of dit goed gaan met Joab, en of dit goed gaan met die manskappe, en of dit goed gaan met die oorlog.

8. En Dawid sê vir Uría: Gaan af na jou huis en was jou voete. En toe Uría uit die paleis uitgaan, het ’n geskenk van die koning hom gevolg.

9. Maar Uría het gaan slaap by die ingang van die paleis, by al die dienaars van sy heer, en nie na sy huis afgegaan nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 11