Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:18-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. En die troon het ses trappe gehad met ’n voetbank van goud, aan die troon bevestig; en leunings aan weerskante by die sitplek, terwyl twee leeus langs die leunings staan.

19. Daarby het twaalf leeus daar op die ses trappe aan weerskante gestaan: so iets is nooit vir enige koninkryk gemaak nie.

20. En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer is in die dae van Salomo as niks gereken nie.

21. Want die koning het skepe gehad wat na Tarsis gevaar het saam met die dienaars van Huram; een maal in drie jaar het die Tarsis-skepe ingekom, gelaai met goud en silwer, ivoor en ape en poue.

22. So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde in rykdom en wysheid.

23. En al die konings van die aarde het die aangesig van Salomo gesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het,

24. terwyl elkeen van hulle sy geskenk saamgebring het: silwervoorwerpe en goue voorwerpe en klere, wapens en speserye, perde en muile, jaar vir jaar.

25. Verder het Salomo vierduisend perdekrippe gehad en strydwaens en twaalfduisend ruiters, en hy het dit in die stede vir die waens en by die koning in Jerusalem opgestel.

26. En hy was heerser oor al die konings van die Eufraat af tot by die land van die Filistyne en tot by die grens van Egipte.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9