Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 35:14-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Daarna het hulle dit ook vir hulleself berei en vir die priesters; want die priesters, die seuns van Aäron, was tot in die nag besig met die offer van die brandoffer en die vetstukke; daarom het die Leviete dit vir hulleself en vir die priesters, die seuns van Aäron, berei.

15. En die sangers, die seuns van Asaf, was op hulle plek volgens die bevel van Dawid en van Asaf en Heman en Jedútun, die siener van die koning, en die poortwagters by elke poort; hulle het nie nodig gehad om van hulle diens af weg te gaan nie, want hulle broers, die Leviete, het dit vir hulle berei.

16. Die hele diens van die Here is toe op dié dag gereël — om die pasga te hou en brandoffers te bring op die altaar van die Here volgens die gebod van koning Josía.

17. En die kinders van Israel wat aanwesig was, het die pasga gehou in dié tyd, en ook die fees van die ongesuurde brode, sewe dae lank.

18. So ’n pasga soos dié is in Israel nie gehou van die dae van die profeet Samuel af nie, en al die konings van Israel het nie so ’n pasga gehou as wat Josía en die priesters en die Leviete en die hele Juda en Israel wat aanwesig was, en die inwoners van Jerusalem gehou het nie.

19. In die agttiende jaar van die regering van Josía is hierdie pasga gehou.

20. NÁ dit alles, toe Josía die huis herstel het, het Nego, die koning van Egipte, opgetrek om te veg by Kárkemis aan die Eufraat, en Josía het uitgetrek hom tegemoet.

21. Toe stuur hy boodskappers na hom om te sê: Wat het ek met jou te doen, koning van Juda? Ek kom nie vandag teen jóú nie, maar teen die huis wat gedurig teen my oorlog voer; en God het gesê ek moet gou maak. Verset jou nie teen God wat met my is, dat Hy jou nie vernietig nie.

22. Josía het egter sy gesig nie van hom afgewend nie, maar homself onkenbaar gemaak om teen hom te veg; hy het nie geluister na die woorde van Nego uit die mond van God nie, en aangekom om te veg in die laagte van Megíddo.

23. En die skutters het koning Josía raak geskiet. Toe sê die koning aan sy dienaars: Bring my weg, want ek is swaar gewond.

24. Sy dienaars bring hom toe van die strydwa af weg en laat hom op sy tweede wa ry en vervoer hom na Jerusalem; en hy het gesterwe en is begrawe in die grafte van sy vaders, terwyl die hele Juda en Jerusalem oor Josía gerou het.

25. En Jeremia het ’n klaaglied op Josía gedig, en al die sangers en sangeresse het in hulle klaagliedere van Josía gespreek tot vandag toe en dit tot ’n insetting in Israel gemaak; en kyk, dit is beskrywe in die Klaagliedere.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 35