Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 29:23-36 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. Daarna het hulle die sondofferbokke nader gebring voor die koning en die vergadering, en hulle het hul hande daarop gelê.

24. En die priesters het hulle geslag en die bloed daarvan as sondoffer teen die altaar uitgegooi om versoening te doen vir die hele Israel; want die koning het die brandoffer en die sondoffer vir die hele Israel beveel.

25. En hy het die Leviete opgestel by die huis van die Here met simbale, met harpe en siters volgens die gebod van Dawid en van Gad, die siener van die koning, en van die profeet Natan; want die Here het dit so beveel deur die diens van sy profete.

26. En die Leviete het gaan staan met die instrumente van Dawid, en die priesters met die trompette.

27. En Hiskía het bevel gegee om die brandoffer op die altaar te offer; en net toe die brandoffer begin, het ook die gesang tot eer van die Here en die trompette begin, en dit onder begeleiding van die instrumente van Dawid, die koning van Israel.

28. En die hele vergadering het hulle neergebuig, en die gesang het weerklink en die trompette geblaas — dit alles totdat die brandoffer verby was.

29. En toe hulle klaar was met offer, het die koning en almal wat by hom aanwesig was, gekniel en hulle neergebuig.

30. Daarop gee koning Jehiskía en die owerstes aan die Leviete bevel om die Here te prys met die woorde van Dawid en van Asaf, die siener; en hulle het met blydskap die lofsang aangehef en gebuig en aanbid.

31. En Jehiskía het begin sê: Nou het julle jul aan die Here gewy; kom aan en bring die slagoffers en die lofoffers na die huis van die Here. Die vergadering het toe slagoffers en lofoffers gebring, en elkeen wat gewillig van hart was, brandoffers.

32. En die getal van die brandoffers wat die vergadering gebring het, was sewentig beeste, honderd ramme, tweehonderd lammers; dit alles as ’n brandoffer aan die Here.

33. En die heilige gawes was seshonderd beeste en drieduisend stuks kleinvee.

34. Net die priesters was te min en kon nie al die brandoffers afslag nie; maar hulle broers, die Leviete, het hulle ondersteun, totdat die werk klaar was en totdat die priesters hulleself geheilig het; want die Leviete was opregter van hart om hulleself te heilig as die priesters.

35. En ook was daar brandoffers in menigte, met die vetstukke van die dankoffers en met die drankoffers vir die brandoffer. So is dan die diens in die huis van die Here gereël.

36. En Jehiskía en die hele volk was bly oor wat God vir die volk berei het; want dit het gou gegaan.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 29