Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:12-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Toe het daar manne uit die hoofde van die kinders van Efraim opgetree teen die wat uit die stryd kom: Asárja, die seun van Jóhanan, Berégja, die seun van Mesíllemot, en Jehiskía, die seun van Sallum, en Amása, die seun van Hádlai,

13. en aan hulle gesê: Julle mag die gevangenes nie hierheen bring nie; want julle dink om by ons sondes en by ons skuld nog by te voeg, sodat ons skuldig sou staan voor die Here; want ons skuld is groot, en die toorngloed is oor Israel.

14. Die gewapendes het toe die gevangenes en die buit voor die owerstes en die hele vergadering losgelaat.

15. En die manne wat met hulle naam aangewys was, het opgestaan en die gevangenes ondersteun en al die naaktes onder hulle uit die buit klere aangetrek; en hulle het aan hulle klere en skoene gegee en hulle laat eet en drink en hulle gesalf en almal wat moeg was, op esels vervoer en na Jérigo, die palmstad, by hul broers gebring; daarna het hulle na Samaría teruggegaan.

16. In dieselfde tyd het koning Agas na die konings van Assirië gestuur dat hulle hom moet help.

17. Bowendien het ook die Edomiete gekom en Juda verslaan en gevangenes weggevoer.

18. Ook die Filistyne het plundertogte onderneem teen die stede van die Laeveld en die Suidland van Juda; en hulle het ingeneem: Bet-Semes en Ájalon en Géderot en Sogo met sy onderhorige plekke en Timna met sy onderhorige plekke en Gimso met sy onderhorige plekke, en daarin gaan woon;

19. want die Here het Juda verneder ter wille van Agas, die koning van Israel, omdat hy losbandigheid in Juda bevorder en gedurig ontrou teen die Here gehandel het.

20. En Tilgat-Pilnéser, die koning van Assirië, het hom oorval en hom in benoudheid gebring en hom nie gehelp nie;

21. want Agas het die huis van die Here en die huis van die koning en van die owerstes geplunder, en dit aan die koning van Assirië gegee sonder dat dit hom tot hulp was.

22. Selfs in die tyd toe hulle hom in benoudheid gebring het, het hy nog meer ontrou teen die Here begaan, dieselfde koning Agas:

23. hy het geoffer aan die gode van Damaskus wat hom verslaan het; en hy het gedink: Die gode van die konings van Aram help hulle; ek sal aan húlle offer, dat hulle my kan help! Maar juis hulle het hom en die hele Israel tot ’n val gebring.

24. En Agas het die gereedskap van die huis van God byeengebring en die gereedskap van die huis van God stukkend geslaan en die deure van die huis van die Here toegesluit en vir hom altare gemaak op elke hoek in Jerusalem.

25. Ook het hy in elke stad van Juda hoogtes opgerig om vir ander gode offerrook te laat opgaan en die Here, die God van sy vaders, geterg.

26. En sy verdere geskiedenis en al sy onderneminge, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Boek van die konings van Juda en Israel.

27. En Agas het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad, in Jerusalem; want hulle het hom nie in die grafte van die konings van Israel gebring nie. En sy seun Jehiskía het in sy plek koning geword.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28