Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 26:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE het die hele volk van Juda Ussía geneem, wat toe sestien jaar oud was, en hom koning gemaak in die plek van sy vader Amásia.

2. Hy het Elot gebou en weer aan Juda teruggebring nadat die koning met sy vaders ontslaap het.

3. Sestien jaar was Ussía oud toe hy koning geword het, en hy het twee-en-vyftig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Jególja, van Jerusalem.

4. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here net soos sy vader Amásia gedoen het.

5. En hy het God gedurig gesoek in die dae van Sagaría, wat onderrig gegee het in die vrees van God. En in die dae dat hy die Here gesoek het, het God hom voorspoedig gemaak.

6. En hy het uitgetrek en teen die Filistyne geveg en die muur van Gat en die muur van Jabne en die muur van Asdod afgebreek, en stede gebou by Asdod en onder die Filistyne.

7. En God het hom gehelp teen die Filistyne en teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete.

8. Ook die Ammoniete het aan Ussía belasting betaal; en sy roem is verbrei tot by die ingang na Egipte, want hy was uitermate magtig.

9. Verder het Ussía torings gebou in Jerusalem by die Hoekpoort en by die Dalpoort en by die Winkelhaak, en hy het hulle versterk.

10. Hy het ook in die woestyn torings gebou en baie putte uitgekap; want hy het baie vee gehad, in die Laeveld sowel as in die Gelykveld, landbouers en wynboere op die berge en in die tuingronde, want hy was ’n liefhebber van die landbou.

11. Verder het Ussía ’n leër gehad wat oorlog kon voer, wat in afdelings op kommando moes uittrek volgens die getal van hulle monstering deur Jeï-el, die skrywer, en Maäséja, die opsigter, onder leiding van Hanánja, een van die owerstes van die koning.

12. Die hele getal van die familiehoofde, van die dapper helde, was tweeduisend-seshonderd.

13. En onder hulle bevel was ’n leërmag van driehonderd-en-seweduisend-vyfhonderd wat met volle krag oorlog kon voer om die koning te help teen die vyand.

14. En Ussía het vir hulle, vir die hele kommando, skilde aangeskaf en spiese en helms en pantsers en boë en slingerstene.

15. Ook het hy in Jerusalem oorlogswerktuie gemaak, ’n uitvinding van ’n kunstenaar, wat op die torings en op die hoeke moes staan om met pyle en groot klippe te skiet; en sy roem is verbrei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy sterk geword het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 26