Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 24:17-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Maar ná die dood van Jójada kom die owerstes van Juda en buig hulle voor die koning neer. Toe het die koning na hulle geluister,

18. en hulle het die huis van die Here, die God van hulle vaders, verlaat en het die heilige boomstamme en die afgode gedien. Toe kom daar ’n toorn oor Juda en Jerusalem weens hierdie skuld van hulle.

19. En Hy het profete onder hulle gestuur om hulle na die Here terug te bring; en dié het hulle gewaarsku, maar hulle het nie gehoor gegee nie.

20. Toe het die Gees van God Sagaría, die seun van die priester Jójada, vervul, en dié het voor die volk gaan staan en aan hulle gesê: So spreek God: Waarom oortree julle die gebooie van die Here en wil julle nie voorspoedig wees nie? Omdat julle die Here verlaat het, het Hy julle verlaat.

21. Daarop smee hulle ’n sameswering teen hom en stenig hom op bevel van die koning in die voorhof van die huis van die Here.

22. En koning Joas het nie gedink aan die guns wat sy vader Jójada aan hom bewys het nie en het sy seun vermoor. Maar toe dié sterwe, het hy gesê: Mag die Here dit sien en rekenskap vorder!

23. En by die wisseling van die jaar het ’n leër van Aram teen hom opgetrek, en hulle het in Juda en Jerusalem aangekom en al die volksowerstes onder die volk uitgeroei en al hulle buit na die koning van Damaskus gestuur.

24. Alhoewel die leër van Aram met ’n geringe aantal manne gekom het, het die Here tog ’n baie groot leër in hulle hand gegee, omdat hulle die Here, die God van hulle vaders, verlaat het. En hulle het strafgerigte geoefen teen Joas.

25. En toe hulle van hom wegtrek — want hulle het hom in hewige pyne agtergelaat — smee sy dienaars ’n sameswering teen hom vanweë die bloed van die seun van die priester Jójada; en hulle het hom op sy bed vermoor, sodat hy gesterf het; en hy is begrawe in die stad van Dawid, maar hulle het hom nie in die grafte van die konings begrawe nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 24