Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN daarna het die kinders van Moab en die kinders van Ammon, en saam met hulle ’n deel van die Meüniete teen Jósafat gekom om te veg.

2. Toe hulle kom en aan Jósafat berig bring en sê: Daar kom ’n groot menigte teen u van anderkant die see, van Edom af, en kyk, hulle is al in Háseson-Tamar — dit is Éngedi —

3. het Jósafat bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die Here te soek, en hy het oor die hele Juda ’n vasdag uitgeroep.

4. En Juda het byeengekom om van die Here hulp te soek; selfs uit al die stede van Juda het hulle gekom om die Here te soek.

5. Toe gaan Jósafat in die vergadering van Juda en Jerusalem staan, in die huis van die Here, voor die nuwe voorhof;

6. en hy sê: Here, God van ons vaders, is Ú nie God in die hemel nie, en is Ú nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie.

7. Het Ú, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie?

8. En hulle het daarin gaan woon en daarin vir U ’n heiligdom tot eer van u Naam gebou, met die gedagte:

9. As daar oor ons onheil kom — swaard, straf of pes of hongersnood — sal ons voor hierdie huis en voor u aangesig gaan staan; want u Naam is in hierdie huis; en ons sal U aanroep uit ons benoudheid, dat U kan hoor en verlos.

10. En hier is nou die kinders van Ammon en Moab en die mense van die gebergte Seïr, onder wie U Israel nie toegestaan het om te trek by hulle koms uit Egipteland nie; want hulle het van hulle weggedraai en hulle nie verdelg nie.

11. Ja, kyk, hulle vergeld ons dit deur te kom om ons uit u besitting te verdrywe wat U aan ons as ’n eiendom gegee het.

12. Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20