Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 2:4-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Kyk, ek gaan ’n huis bou vir die Naam van die Here my God, om dit aan Hom te heilig — om voor sy aangesig reukwerk van speserye aan die brand te steek en die toonbrode gedurig reg te sit en die brandoffers smôrens en saans te bring op die sabbatte en op die nuwemane en op die feestye van die Here onse God — ’n ewige verpligting op Israel.

5. En die huis wat ek gaan bou, sal groot wees; want onse God is groter as al die gode.

6. Maar wie is in staat om vir Hom ’n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ’n huis kan bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek?

7. Stuur my dan nou ’n kunsvaardige man om goud en silwer en koper en yster en purperrooi en bloedrooi en pers stowwe te bewerk, en wat verstaan om figure uit te sny saam met die kunstenaars wat by my in Juda en in Jerusalem is, wat my vader Dawid bestel het.

8. Stuur ook aan my seder-, sipres- en sandelhout van die Líbanon af, want ek weet dat u dienaars verstaan om die hout van die Líbanon te kap; en kyk, my dienaars sal saam met u dienaars wees,

9. naamlik om hout in menigte vir my gereed te maak, want die huis wat ek gaan bou, sal groot en wonderbaar wees.

10. En kyk, ek gee as voedsel aan die houtkappers wat die bome kap, aan u dienaars, twintigduisend kor koring en twintigduisend kor gars en twintigduisend bat wyn en twintigduisend bat olie.

11. En Huram, die koning van Tirus, het in ’n brief gesê wat hy aan Salomo gestuur het: Omdat die Here sy volk liefhet, het Hy u as koning oor hulle aangestel.

12. Verder het Huram gesê: Geloofd sy die Here, die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het, wat aan koning Dawid ’n wyse seun gegee het, begaafd met insig en verstand, om ’n huis vir die Here en ’n huis vir sy koninkryk te bou.

13. Ek stuur dan nou ’n kunstenaar, begaafd met verstand, naamlik Huram Abi,

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 2