Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 8:7-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. EN Elísa het in Damaskus aangekom, terwyl Bénhadad, die koning van Aram, siek was; en aan hom is meegedeel en gesê: Die man van God het hierheen gekom.

8. Toe sê die koning vir Hásael: Neem ’n geskenk in jou hand en gaan die man van God tegemoet en raadpleeg die Here deur hom en vra: Sal ek van hierdie siekte gesond word?

9. Daarop het Hásael hom tegemoetgegaan en ’n geskenk in sy hand geneem, naamlik allerhande kosbare goed van Damaskus, ’n vrag vir veertig kamele; en hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: U seun Bénhadad, die koning van Aram, stuur my na u om te vra: Sal ek van hierdie siekte gesond word?

10. En Elísa antwoord hom: Gaan sê: Jy sal sekerlik nie gesond word nie; want die Here het my laat sien dat hy sekerlik sal sterwe.

11. En hy het sy gesig strak na hom gerig totdat hy verleë was; en die man van God het geween.

12. Toe sê Hásael: Waarom ween my heer? En hy antwoord: Omdat ek weet watter kwaad jy die kinders van Israel sal aandoen; jy sal hulle vestings aan die brand steek en hulle jongmanne met die swaard ombring en hulle jong kinders verpletter en hulle swanger vroue oopsny.

13. Maar Hásael sê: Wat is u dienaar, die hond, dat hy hierdie groot ding sou doen? En Elísa antwoord: Die Here het my jou laat sien as koning oor Aram.

14. Daarop het hy van Elísa af weggegaan, en toe hy by sy heer kom, het dié hom gevra: Wat het Elísa vir jou gesê? En hy antwoord: Hy het vir my gesê: U sal sekerlik gesond word.

15. Maar die volgende dag het hy die bedsprei geneem en dit in die water gesteek en oor sy gesig uitgesprei, sodat hy gesterf het; en Hásael het in sy plek koning geword.

16. EN in die vyfde jaar van Joram, die seun van Agab, die koning van Israel, terwyl Jósafat koning was van Juda, het Jehóram, die seun van Jósafat, die koning van Juda, koning geword.

17. Hy was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy was agt jaar lank koning in Jerusalem.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 8