Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 7:6-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Want die Here het die leër van die Arameërs ’n gedruis van waens en ’n gedruis van perde, ’n gedruis van ’n groot leërmag laat hoor, sodat hulle die een vir die ander gesê het: Kyk, die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van die Egiptenaars teen ons gehuur om ons te oorval.

7. Daarom het hulle in die skemer klaargemaak en gevlug, maar hulle tente en perde en esels, die laer soos dit was, in die steek gelaat; en hulle het vir hul lewe gevlug.

8. En toe daardie melaatse manne by die kant van die laer kom, het hulle een tent binnegegaan en geëet en gedrink en daar silwer en goud en klere uit weggeneem en dit gaan begrawe. Daarna het hulle teruggekom en ’n ander tent binnegegaan en ook daaruit weggeneem en dit gaan begrawe.

9. Toe sê hulle die een vir die ander: Ons doen nie reg nie. Hierdie dag is ’n dag van goeie boodskap, en ons bly stil! As ons vertoef tot die môrelig toe, dan sal ons skuldig staan. Kom dan nou, laat ons gaan en dit in die huis van die koning vertel.

10. En hulle het gekom en na die poortwagters van die stad geroep en aan hulle berig gebring en gesê: Ons het by die laer van die Arameërs gekom, maar kyk, daar was niemand en geen mens se stem nie, maar net vasgemaakte perde en vasgemaakte esels en tente net soos dit was.

11. En die poortwagters het geroep en dit binne-in die huis van die koning vertel.

12. Toe staan die koning in die nag op en sê aan sy dienaars: Laat ek julle vertel wat die Arameërs aan ons gedoen het. Hulle weet dat ons honger ly; daarom het hulle uit die laer getrek om hulle in die veld weg te steek, en gesê: As hulle uit die stad uittrek, sal ons hulle lewendig vang en in die stad inkom.

13. Maar een van sy dienaars antwoord en sê: Laat hulle dan tog vyf van die perde wat hier oorgebly het, neem — kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel wat hier oor is; kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel wat omgekom het — laat ons dié dan stuur en sien.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 7