Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:13-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En hy sê: Gaan kyk waar hy is, dat ek hom kan laat vang. En daar is aan hom te kenne gegee en gesê: Hy is daar in Dotan.

14. So het hy dan daarheen perde en strydwaens en ’n swaar leër gestuur, en hulle het in die nag gekom en die stad omsingel.

15. En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar ’n leër met perde en strydwaens rondom die stad. En sy dienaar sê vir hom: Ag, my heer, hoe sal ons maak?

16. Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.

17. En Elísa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die Here het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.

18. En toe hulle na hom afkom, het Elísa tot die Here gebid en gesê: Slaan tog hierdie mense met blindheid. En Hy het hulle op die woord van Elísa met blindheid geslaan.

19. Daarop sê Elísa vir hulle: Dit is nie die weg, en dit is nie die stad nie; volg my, dan sal ek julle lei na die man wat julle soek; en hy het hulle na Samaría gelei.

20. En by hulle aankoms in Samaría, sê Elísa: Here, open hulle oë, dat hulle kan sien. En die Here het hulle oë geopen, dat hulle kon sien, en daar was hulle binne-in Samaría!

21. En die koning van Israel sê vir Elísa toe hy hulle sien: Moet ek verslaan, moet ek verslaan, my vader?

22. Maar hy antwoord: U mag nie verslaan nie. Sou u dan verslaan die wat u met u swaard en u boog as gevangenes weggevoer het? Sit aan hulle brood en water voor, dat hulle kan eet en drink en na hulle heer kan trek.

23. En hy het hulle ’n groot maaltyd berei; en nadat hulle geëet en gedrink het, laat hy hulle gaan; en hulle het na hul heer getrek. En die bendes van die Arameërs het verder nie meer in die land van Israel gekom nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6