Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:12-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Is Abána en Farpar, die riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie? Kon ek my nie daarin was en rein word nie? En hy het omgedraai en vererg weggery.

13. Toe kom sy dienaars nader en spreek met hom en sê: My vader, as die profeet u ’n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou, en jy sal rein word?

14. Daarop het hy afgeklim en sewe maal in die Jordaan ondergeduik volgens die woord van die man van God, en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van ’n jong seun, en hy het rein geword.

15. Toe draai hy om na die man van God, hy en sy hele gevolg, en hy het ingekom en voor hom gaan staan en gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel. Neem dan nou tog ’n geskenk aan van u dienaar.

16. Maar hy sê: So waar as die Here leef voor wie se aangesig ek staan, ek sal dit nie aanneem nie! En hy het by hom aangehou om dit aan te neem, maar hy het geweier.

17. En Naäman het gesê: So nie, laat dan tog aan u dienaar ’n vrag grond gegee word, soveel as ’n paar muile kan dra; want u dienaar sal nie meer brandoffer of slagoffer aan ander gode bring nie as net aan die Here.

18. Mag die Here in hierdie saak u dienaar vergewe: as my heer in die huis van Rimmon ingaan om hom daar neer te buig, terwyl hy op my hand leun, sodat ek my ook in die huis van Rimmon neerbuig — as ek my neerbuig in die huis van Rimmon, mag die Here dan tog in hierdie saak u dienaar vergewe.

19. En hy sê vir hom: Gaan in vrede! Nadat hy ’n ent pad van hom weggetrek het,

20. sê Gehási, die dienaar van Elísa, die man van God: Kyk, my heer het hierdie Arameër Naäman verskoon deur nie uit sy hand aan te neem wat hy gebring het nie. So waar as die Here leef, sekerlik sal ek agter hom aan loop en iets van hom aanneem.

21. So het Gehási dan Naäman haastig gevolg. En toe Naäman een agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa afgespring hom tegemoet en gesê: Gaan dit goed?

22. En hy antwoord: Dit gaan goed; my heer stuur my om te sê: Kyk, daar het nou net twee jongmanne, profete-seuns, van die gebergte van Efraim af, na my gekom. Gee aan hulle tog ’n talent silwer en twee stel klere.

23. En Naäman sê: Neem asseblief twee talente! En hy het by hom aangehou en twee talente silwer in twee geldsakke toegebind en dit saam met twee stel klere aan twee van sy dienaars gegee, wat dit voor hom uit gedra het.

24. En toe hy by die heuwel aankom, het hy dit uit hulle hand geneem en in die huis in bewaring gegee en die manne laat gaan; en hulle het weggegaan.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5