Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 3:5-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Maar ná die dood van Agab het die koning van Moab van die koning van Israel afvallig geword.

6. En in dieselfde tyd het koning Joram uit Samaría uitgetrek en die hele Israel gemonster.

7. Ook het hy Jósafat, die koning van Juda, laat weet: Die koning van Moab het van my afvallig geword; sal u saam met my trek om teen die Moabiete te veg? En hy antwoord: Ek sal optrek; ek sal wees soos u, my volk soos u volk, my perde soos u perde.

8. En hy vra: Met watter pad sal ons optrek? Toe antwoord hy: Met die pad deur die woestyn van Edom.

9. So het die koning van Israel dan getrek en die koning van Juda en die koning van Edom; maar nadat hulle ’n pad van sewe dae omgetrek het, was daar geen water vir die leër en die vee wat in hulle voetspore gevolg het nie.

10. Toe sê die koning van Israel: Ag, die Here het hierdie drie konings geroep om hulle in die hand van die Moabiete te gee!

11. En Jósafat vra: Is hier nie ’n profeet van die Here, dat ons deur hom die Here kan raadpleeg nie? Toe antwoord een van die koning van Israel se dienaars en sê: Hier is Elísa, die seun van Safat, wat water op die hande van Elía gegiet het.

12. Daarop sê Jósafat: By hom is die woord van die Here. So het die koning van Israel en Jósafat en die koning van Edom dan na hom afgegaan.

13. Maar Elísa het aan die koning van Israel gesê: Wat het ek met u te doen? Gaan na die profete van u vader en die profete van u moeder! Maar die koning van Israel antwoord hom: Ag nee, want die Here het hierdie drie konings geroep om hulle in die hand van die Moabiete te gee.

14. En Elísa sê: So waar as die Here van die leërskare leef voor wie se aangesig ek staan, as ek nie agting gehad het vir die persoon van Jósafat, die koning van Juda, nie, ek sou na u nie kyk en u nie aansien nie.

15. Maar bring nou vir my ’n siterspeler. En toe die siterspeler op die snare speel, het die hand van die Here op hom gekom,

16. en hy het gesê: So spreek die Here: Maak hierdie dal vol gate.

17. Want so spreek die Here: Julle sal geen wind sien nie, en julle sal geen reën sien nie, en tog sal hierdie dal vol water word, sodat julle self en julle vee en julle ander diere kan drink.

18. Ja, dit is nog te gering in die oë van die Here: Hy sal ook die Moabiete in julle hand gee.

19. En julle sal elke versterkte stad en elke uitgesoekte stad oorweldig en elke goeie boom omkap en al die waterfonteine toestop, en elke goeie stuk grond sal julle met klippe bederwe.

20. En die volgende môre, omtrent die tyd dat hulle die spysoffer bring, kom daar meteens water van die kant van Edom af, sodat die land vol water geword het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 3