Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 21:10-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Toe het die Here deur die diens van sy knegte, die profete, gespreek en gesê:

11. Omdat Manasse, die koning van Juda, hierdie gruwels gedoen het — erger as alles wat die Amoriete gedoen het wat voor hom was, en selfs Juda laat sondig het deur sy drekgode —

12. daarom, so sê die Here, die God van Israel: Kyk, Ek sal ’n onheil oor Jerusalem en Juda bring, waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit.

13. En Ek sal oor Jerusalem die meetsnoer van Samaría span en die skietlood van die huis van Agab, en Jerusalem wegvee soos ’n mens ’n skottel uitvee: hy vee dit uit en keer dit onderstebo.

14. En Ek sal die oorblyfsels van my erfdeel verwerp en hulle in die hand van hul vyande oorgee, sodat hulle vir al hul vyande ’n buit en ’n plundering sal word;

15. omdat hulle gedoen het wat verkeerd was in my oë, en My gedurig geterg het van die dag af dat hulle vaders uit Egipte uitgetrek het, tot vandag toe.

16. En Manasse het ook vreeslik baie onskuldige bloed vergiet totdat hy Jerusalem van end tot end daarmee gevul het, behalwe sy sonde waarmee hy Juda laat sondig het om te doen wat verkeerd was in die oë van die Here.

17. En die verdere geskiedenis van Manasse en alles wat hy gedoen het, en sy sonde wat hy begaan het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

18. En Manasse het ontslaap met sy vaders en is begrawe in die tuin van sy huis, in die tuin van Ussa; en sy seun Amon het in sy plek koning geword.

19. AMON was twee-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Mesullémet, ’n dogter van Harus, uit Jotba.

20. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, soos sy vader Manasse gedoen het.

21. En hy het geheel en al gewandel in die weg wat sy vader bewandel het, en die drekgode gedien wat sy vader gedien het en hom voor hulle neergebuig.

22. En hy het die Here, die God van sy vaders, verlaat en nie in die weg van die Here gewandel nie.

23. En die dienaars van Amon het ’n sameswering teen hom gesmee en die koning in sy huis omgebring.

24. Maar die volk van die land het al die samesweerders teen koning Amon doodgeslaan, en die volk van die land het sy seun Josía in sy plek koning gemaak.

25. En die verdere geskiedenis van Amon, wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

26. En hy is begrawe in sy graf, in die tuin van Ussa; en sy seun Josía het in sy plek koning geword.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 21