Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 20:11-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En Jesaja, die profeet, het die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee op die grade waarlangs dit op die grade van Agas se sonnewyser gedaal het, laat teruggaan, tien grade agteruit.

12. In dié tyd het Beródag-Báladan, die seun van Báladan, die koning van Babel, ’n brief en ’n geskenk aan Hiskía gestuur; want hy het gehoor dat Hiskía siek was.

13. En Hiskía het na hulle geluister en hulle sy hele skathuis laat sien, die silwer en die goud en die speserye en die kosbare olie en sy wapenhuis en alles wat in sy skatkamers te vinde was; daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat Hiskía hulle nie laat sien het nie.

14. Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskía en sê vir hom: Wat het hierdie manne gesê, en waarvandaan het hulle na u gekom? En Hiskía antwoord: Uit ’n ver land het hulle gekom, uit Babel.

15. En hy sê: Wat het hulle in u huis gesien? En Hiskía antwoord: Alles wat in my huis is, het hulle gesien; daar is niks in my skatkamers wat ek hulle nie laat sien het nie.

16. En Jesaja sê vir Hiskía: Hoor die woord van die Here!

17. Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders tot vandag toe opgehoop het, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die Here.

18. En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel.

19. Toe sê Hiskía vir Jesaja: Die woord van die Here wat u gespreek het, is goed. Ook sê hy: Waarom dan nie, as daar maar vrede en bestendigheid in my dae sal wees!

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 20