Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:18-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. En hulle het na die koning geroep. Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, uit na hulle toe.

19. En die rábsake sê vir hulle: Sê tog vir Hiskía: So spreek die groot koning, die koning van Assirië! Wat is dit vir ’n vertroue wat jy koester?

20. Dink jy dat net lippetaal raad en dapperheid vir die oorlog is? Op wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom?

21. Kyk nou, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou.

22. Maar as julle vir my sê: Ons vertrou op die Here onse God — is dit nie Hy wie se hoogtes en wie se altare Hiskía verwyder het nie deur aan Juda en Jerusalem te sê: Voor hierdie altaar in Jerusalem moet julle buig?

23. Nou dan, wed tog met my heer, die koning van Assirië, en ek sal jou tweeduisend perde gee as jy vir jou ruiters daarop kan lewer.

24. Hoe sal jy dan die aanval van ’n enkele goewerneur van my heer se geringste dienaars afslaan? Maar jy vertrou op Egipte vir strydwaens en perderuiters!

25. Het ek nou sonder die Here opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes? Die Here het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en verwoes dit.

26. Toe sê Éljakim, die seun van Hilkía, en Sebna en Joa aan die rábsake: Praat tog met u dienaars Aramees, want ons verstaan dit; en moenie met ons Joods praat voor die ore van die manskappe wat op die muur is nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18